Ons Visie en Missie

Visie

Ons visie is om passievol te brand vir God, mekaar en die wêreld.
Ons is ‘n lig vir die nasies wat God verheerlik. Verlossing vir almal. Troos, Genesing & Herstel.
Hierdie visie is gevestig op Jesaja 60:1-3 en Jesaja 61:1-3

JESAJA 60:1-3 (AFR83)

“Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig! Vir jou het die lig gekom, die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring. Daar is donkerte oor die aarde, duisternis oor die nasies, maar oor jou gee die Here lig, oor jou verskyn sy magtige teenwoordigheid. Nasies kom na jou lig toe en konings na die glans van die nuwe dag wat vir jou aangebreek het.”

JESAJA 61:1-3 (AFR83)

“Die Gees van die Here my God het oor my gekom; die Here het my gesalf om ‘n blye boodskap te bring aan die mense in nood, Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur, om vir die gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir dié wat opgesluit is, om aan te kondig dat die tyd gekom het waarop die Here genade betoon, die dag waarop ons God sy vyande straf maar almal wat treur, vertroos, die dag waarop Hy vir dié in Sion wat treur, eer gee in plaas van smart, vreugde in plaas van droefheid, blydskap in plaas van hartseer. Hulle sal genoem word: Bome van Redding. Die Here het hulle geplant om sy roem te vermeerder.”

Missie

Ons passie vir God is ons hoogste begeerte en verantwoordelikheid, waaruit alles in ons lewens vloei. Dit maak God se teenwoordigheid sigbaar vir almal rondom ons. Ons sal hierdie missie bereik deur ‘n persoonlike gebedslewe en deur gehoorsaamheid aan God se Woord. Ons glo dit sal lei tot ‘n passievolle verhouding met God en ‘n lewe wat deur die Heilige Gees gelei word.

Ons passie vir mekaar sal gerealiseer word deur God se liefde wat uit ons harte vloei. Met die leiding van die Heilige Gees, sal ons mekaar versterk, bemoedig, en bystaan. Ons sal gesonde vriendskappe in die gemeente vestig en pastorale sorg bied. Ons is oortuig dat deelname aan gemeentelike byeenkomste en bedieninge ons ook sal help om mekaar te dien en mekaar se las te dra.

Ons passie vir die wêreld sal deur God se kragtige teenwoordigheid in ons lewens vloei, en dit sal sigbaar wees op ‘n persoonlike en gemeentelike vlak. Ons beoog om die wêreld met die Evangelie te bereik, sodat mense die vryheid kan ervaar deur God se liefde en die krag van die Heilige Gees.

BrandPunt Gemeente Boksburg