Visie
Ons visie is om passievol te brand vir God, mekaar en die wêreld.
Dit is gevestig op Jesaja 60:1-3 en Jesaja 61:1-3
JESAJA 60:1-3 (AFR83)
Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig! Vir jou het die lig gekom, die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring. Daar is donkerte oor die aarde, duisternis oor die nasies, maar oor jou gee die Here lig, oor jou verskyn sy magtige teenwoordigheid. Nasies kom na jou lig toe en konings na die glans van die nuwe dag wat vir jou aangebreek het.
JESAJA 61:1-3 (AFR83)
Die Gees van die Here my God het oor my gekom; die Here het my gesalf om ‘n blye boodskap te bring aan die mense in nood, Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur, om vir die gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir dié wat opgesluit is, om aan te kondig dat die tyd gekom het waarop die Here genade betoon, die dag waarop ons God sy vyande straf maar almal wat treur, vertroos, die dag waarop Hy vir dié in Sion wat treur, eer gee in plaas van smart, vreugde in plaas van droefheid, blydskap in plaas van hartseer. Hulle sal genoem word: Bome van Redding. Die Here het hulle geplant om sy roem te vermeerder.
Missie
Ons passie vir God bly ons grootste begeerte en verantwoordelikheid waaruit alles in ons lewens vloei, sodat God se teenwoordigheid sigbaar kan word vir almal rondom ons. Hierdie missie sal bereik word deur persoonlike gebedslewe en gehoorsaamheid aan God se Woord. Ons glo dat dit sal lei tot ʼn passievolle verhouding met God en ʼn lewe gelei deur die Heilige Gees.
Ons passie vir mekaar sal bereik word deur God se liefde wat uit ons harte vloei vir mekaar. Deur die leiding van die Heilige Gees sal ons ook mekaar kan versterk, bemoedig en by te staan. Ons passie vir mekaar sal bereik word deur gesonde vriendskappe te vestig in die gemeente, asook pastorale versorging. Ons glo ook vas dat om die onderlinge byeenkomste by te woon en by bedieninge betrokke te raak ons ook sal help om mekaar te bedien en mekaar se laste te dra.
Ons passie vir die wêreld sal deur God se magtige teenwoordigheid in ons lewens vloei en sigbaar wees op ʼn persoonlike vlak asook op ʼn gemeente vlak. Op beide vlakke wil ons die wêreld bereik met die Evangelie sodat ons mense in gevangenis kan sien vry kom deur God se liefde te ervaar en deur die kragtige werking van die Heilige Gees.